Apologie
Vir dié van julle wat gister ‘n vreemde boodskap gekry het met hierdie opskrif en ‘n skaakbordfoto, ek vra verskoning. Ek het ‘n aanbieding by Tuks gedoen oor die blog en wou gou vir die seminaargangers wys hoe ek die foto’s laai en artikels skryf en dit was toe net ‘n demonstrasie. Hieronder volg die refleksie oor gister dan.
Ek het vir jare die Lenteseminaar bygewoon terwyl ek in Mpumalanga skoolgehou het. Van my oud-kollegas was ook gister daar – ek verlang terug na die “rus en vrede”. Ons het douvoordag opgestaan en vol opwinding die tog na die bose stad aangepak. Die dorpsmense glo dat ons alles in die stad het en hulle begeer om ook alles binne reikafstand te hê. Ons stadsjapies waardeer nie dit wat onder ons neuse is en waartoe ons so maklik toegang het nie. My oud-skoolhoof, Mnr. Lukas van der Merwe (puik hoof) het geglo dat sy personeel dieselfde geleenthede as die stadsmense SAL kry, al moet hy hulle 150km ver aanry! Waar’s die dae?
“w” of “word” (Engelse word) wat “whatever” beteken soos Carina Diedericks-Hugo gister vir ons die nuwe uitdrukking vars van die Kaap geleer het…
Die seminaar is afgeskop met Prof. Willie Burger…
wat ons duidelik laat verstaan het dat ons nie status het nie, want status word aan ‘n salaris gekoppel en ons salarisse, wel, nou ja. Maar wat ons wel het, is nie goedkoop nie. Ons “onderrig letterkunde” en ons ontsluit die woord en sy dieper betekenis vir die kind. Ons hoef nie deesdae meer ellelange stukke uit letterkundige werke aan te haal nie, maar dis belangrik wat ons doen en niemand kan regtig ‘n prys op ‘n onderwyser se werk plaas nie.
Daarna was Carina Diedericks-Hugo …
aan die woord en ons het saam met haar gekoukus en besin oor die “…uitdagings van Afrikaansonderrig vir tieners.” Moet die jeugboekskrywer Engelse woorde in die verhaal gebruik al dan nie? Sy het ook iets van ‘n kledingstuk en sjokolade gesê, maar daaroor mag ons nie uitpraat nie. Ek het ‘n paar jaar gelede ‘n werkswinkel vir skrywers by Tukkies bygewoon waar Carina ook opgetree het en dit was gister vir my weer lekker om te hoor hoe sy die uitdagings aanpak, alhoewel Miemie (Lapa Uitgewers) gesê het die skrywers luister nie regtig as sy praat nie. Ons onderwysers het dit só waardeer, want niemand luister as ons praat nie…!
Ek het toe ook iets gesê …
ek kan net nie nou mooi onthou waarvan ek gepraat het nie. O, ja. “Die skep van ‘n blog vir Afrikaansonderrig.” Ek het gepraat oor hierdie einste blog en hoe ek dit aanwend om die leerder (en sy/haar moedelose ma) te help om Afrikaans beter, makliker, vinniger te “hoor…sien…verstaan…leer… en presteer!”
Gun my die geleentheid om baie dankie te sê aan almal wat na die tyd kom dankie sê het vir ‘n manier en ‘n plek waar ouers en onderwysers leerders heen kan verwys om meer te leer of gou te hersien, onderwysers wat wonder oor of ek ooit snags slaap en die hordes komplimente. Dankie ook vir die mooi woorde oor die FLITSGIDS wat gister bekendgestel en verkoop is. Ek het die kommentaar baie geniet en waardeer. Dis net ‘n onderwyser/es wat sal verstaan en waardeer hoeveel tyd, geduld, moeite en liefde! in ons werk ingaan. Ek hoor graag weer van almal wat daar was en wat teruggaan skool toe om die gids te wys en te bespreek. Almal se idees is welkom. Terwyl julle slaap (hahaha) sal ek julle idees in gidse of video’s omskep, want ek het “baie tyd” ! Ek sien net gou November/Desember 2 matrieksessies na by Wits en Uitsig en volgende jaar studeer ek verder… hierdie goed pas ek sommer so vinnig-vinnig in! En ja, die gids kan blykbaar vir Addisionele Taal en die laerskoolleerder ook aangewend word. En ja, ek sal plakkate van die gids laat druk as julle vir my ‘n e-pos stuur en laat weet dat julle belangstel om daarvan aan te koop vir die klaskamer se mure.
Adinda Vermaak het ons berispe…
omdat ons “die rooi pen” (Adinda, is groen sagter op die oog?) te veel inspan tydens die nasien van stelwerkstukke. Die kommentaar wat onderwysers darem na ‘n opstel kan kwytraak, het ons laat stik van die lag. Ons almal het die moedeloosheid van voor af ervaar toe die een onderwyser skryf : ” MAGTAG!!!! NOU NOG???” vir ‘n woord wat verkeerd gespel is... “Skuus, leerders, ons is soms net moeg en moedeloos na die hoeveelste opstel, na middernag… Hiermee vra ek namens alle Afrikaansonderwysers in die land verskoning. Ons bedoel dit egter goed en nie so kras soos wat dit oorkom nie. Vergewe assbelief?
Die hoogtepunt vir MAN en MUIS was egter…
Chris Chameleon wat aan alle dertig- en veertigjarige dames duidelik laat verstaan het dat hy soekend is. Net nie vir ‘n onderwyseres nie, want ons maak hom blykbaar senu-agtig… Ons mag net luister na sy mooie, soete stem en hy belowe om vir ons ‘n foto te stuur van die Nederlandse nooi se p… skuus, troeteldier! Dankie Chris!
Annette, Tercia, Jacomien en almal agter die skerms…
baie dankie vir ‘n pragtige, waardevolle, dag vir die Afrikaansonderwyser. Ons waardeer julle insette en ons hoop julle hou nog vir lank so aan.
Laate maar nie die minste…
aan al die Afrikaansonnies wat daar was en dit geniet het…
lewer gerus kommentaar hieronder (soos ek julle gewys het!),skakel met my op Faceboek, stuur vir my ‘n e-pos of bel my!
Vir die wat nie daar was nie, lewer kommentaar hieronder, steek jou regterhand se TWEE vingers in die lug en belowe jy sal volgende jaar daar wees! Smeek jou hoof nou reeds. Dis ‘n ervaring duisend!
Ek wens julle alle sukses en sterkte toe met die nasien, die voorbereiding en alles wat julle in die naam van onderwys aanpak!











15. October 2011 at 11:38 am
Lisa, jy het gister twee dinge vir my laat besef: die eerste is dat ek baie beter kan klasgee en dit baie lekkerder vir die leerders kan maak. Die tweede ding is dat ek nie te oud is om te leer nie. Wil jy nie hier by ons kom wys wat jy doen nie. Al ons onderwysers moet kan sien hoe lyk dit as die onderwys en leerders jou tot sulke hoogtes kan motiveer. Ek salueer jou. Die Flitsgids is ook ‘n fantastiese hulpmiddel. Waar kry jy al jou idees? Ons skool gaan dit beslis gebruik. Sterkte vir jou en dankie vir al die mooi dinge wat jy vir ons kinders doen.
[Reply]
Lisa Smith Reply:
October 18th, 2011 at 5:58 pm
Karin
Ek is bly jy het die seminaar geniet. Dankie vir die mooi woorde. Skakel my gerus vir ‘n afspraak.
Groete
Lisa
[Reply]